Op ’n gebedstaptog, ’n paar weke gelede, het ek die lang pad van oor die 70 km na Murraysburg toe aangepak. Die eensame grondpad het tussen die berge deur gekronkel en vroegoggend tot in ’n digte populierbos gedraai. Die vallei was oortrek met honderde ontsaglike groot bome. Terwyl ek tussen die enorme boomstamme loop, hoor ek die wonderlike geluid van die wind wat van ver deur die boomtoppe aankom en reg bo my verby suis.
Veel later daardie oggend het die grondpad steil geraak en uiteindelik bo-oor ’n berg geloop. ’n Paar uur later was daar ’n lang afdraande langs ’n diep ravyn en ’n digte bos bome. Ek het weereens die wind in die boomtoppe gesoek toe ’n paar perde tussen skaduwees uitkom en al spelende voor my verby galop. Ek het in my opgewondenheid nie eers die motor langs my hoor stilhou nie.
’n Rustige vrede het neergedaal en skielik het ’n stem agter my gevra: “Waar op aarde stap jy so heen?” Ek het verskrik omgeswaai en die boer het uitgebars in die aansteeklikste lekker lag wat ek in ’n lang tyd gehoor het. Ek kon nie my laglus beteuel nie en het my eers saam verkneukel en toe verduidelik dat ek op pad is Murraysburg toe. Hieroor het die boer éérs lekker gelag. Ek het nie geweet wat so snaaks was nie, en het maar saam geskater.
“Nee man! Jy loop in die verkeerde rigting. Jy is op pad Richmond toe.” Nadat ons weer saam gelag het, was ek heeltemal onseker of hy nou ’n grap gemaak het of nie.
“Kom ek vat jou gou terug na waar jy die afdraai gemis het.” Hy vertel toe dat hy my op sy sekuriteitskamera wat by die vorige afdraai is, gesien verbystap het. “Ek het jou toevallig op die skerm sien verbystap, en vir my vrou gewys. Sy het vir my gesê dat ek moet gaan kyk.”
Sy het voorts ook vir hom gesê: ”Ek kan sien daardie man is op ’n missie.”
Hy het my nie by die afdraai afgelaai nie, maar na sy huis toe geneem. In die kombuis het hy my aan sy vrou voorgestel en my by die tafel sitgemaak. Hulle het my heerlik bederf uit die kospotte op die stoof, en nog koeldrank en koek ook!
Hy het aangebied om my aan die anderkant van sy plaas by die korrekte afdraai na Murraysburg te gaan aflaai; maar ek moes hom verskoon, sodat hy eers iets by die skape kon gaan kyk.
Terwyl hy weg was, het sy vrou verduidelik dat hulle die volgende dag wol in Port Elizabeth moes lewer. Hulle was agter skedule en sou daardie aand tot laat nog besig wees om skaap te skeer.
Die boer het my ’n rukkie later kom haal en by die regte afdraai gaan aflaai. Ek het by die bakkie uitgeklim en hy het my rugsak op my rug help opsit en eers teruggery nadat hy seker was dat ek op die regte pad aangestap het.
Daardie skaapboer wat al sy skape agtergelaat het om my te gaan soek, is ’n Van der Merwe. Hy het agter my aangegaan totdat hy my gevind, en met vreugde na sy huis gebring het.
Die bybelse herder wat ook al sy skape agtergelaat het om ’n verlore skaap te gaan soek, het sy bure en vriende gevra: Wees saam met my bly, want ek het my verlore skaap gevind. Die boer en sy vrou was saam met my bly en het my bedien met ’n feesmaal.
Ons besoek was gevul met die vreugde van die Here.
’n Vriend het vir my vertel dat Van der Merwe se lewensdoel was om die Suid-Afrikaanse nasie te laat lag. Al die Van der Merwes wat ek ken is diep geestelike mense en in hierdie tyd van soeke na die “nuwe normaal” ontvou Van der Merwe se skeppingsdoel om die nasie met die vreugde van die Here te bedien.
Wat ’n getuienis!
Comments